Geografie van Azerbeidjan

Bazardüzü is die hoogste piek met 4 466 m
Nasa-Satellietbeeld van Azerbeidjan
Gematigde reënwoud in die Lerik-rajon, Suid-Azerbeidjan
Kaart van Azerbeidjan

Azerbeidjan is een van net twee lande wat deur land omring word wat op twee kontinente (Asië en Europa) geleë is; die ander is Kasakstan. Azerbeidjan se staatsgebied beslaan die suidoostelike deel van Transkaukasië op die landbrug tussen die Swart- en die Kaspiese See. Dit strek van die Groot Kaukasus-bergreeks in die noorde tot by die Ararat-hooglande in die suidweste en die kusgebied van die Kaspiese See in die ooste.[1]

Azerbeidjan se 86 600 km² maak dit effens groter as die Suid-Afrikaanse provinsie Mpumalanga. 5 500 km² word deur die outonome Republiek Nachitsjewan beslaan. Sedert die vroeë 1990's is sowat 'n vyfde van Azerbeidjan se staatsgebied deur Karabach-Armeense eenhede beset, waaronder die hele Nagorno-Karabakh-streek asook dié gebied se landverbindings met Armenië.

Azerbeidjan se buurlande is Armenië in die weste, Georgië en die Russiese Federasie (die outonome Republiek Dagestan) in respektiewelik die noord-weste en noorde, Iran en – langs 'n grenslyn van net nege kilometer – Turkye in die suide en suid-weste. Die Kaspiese See vorm 'n natuurlike grens in die ooste.[1]

Die hartland van Azerbeidjan word deur die Koera-Araks-laagland oorheers – 'n landskap wat grotendeels nie hoër as 200 meter bo seevlak nie en in sy oostelike dele selfs enkele meter benede seevlak geleë is.[1] Die Koera-riviervlakte het 'n halfdroë steppeklimaat met gematigde winters en warm somers. Die streek ontvang jaarlikse gemiddelde neerslae van tussen 200 en 350 millimeter, maar danksy besproeiing kan die vrugbare grond vir landboudoeleindes gebruik word.[1]

Die oostelike hoof- asook kleiner bergkamme van die Groot Kaukasus-bergreeks loop deur die noorde van die land. Die hoogste piek in dié reeks, Bazardüzü, is 4 466 meter bo seevlak. Die Klein Kaukasus-reeks met die vulkaniese Karabach-hooglande is eweneens in Noord-Azerbeidjan geleë. Laer bergreekse strek vanuit die noord-ooste tot by die Abşeron-skiereiland en die Kaspiese See.[1]

Die Koera vorm met sy takriviere Araks en Arasani die grootste rivierstelsel in die land. Daar is sowat 1 000 riviere in Azerbeidjan, maar geeneen van hulle is bevaarbaar. Behalwe vir die lentetyd, wanneer hulle deur smeltende sneeu gevoed word, is die meeste riviere maar klein stroompies.[2]

Alhoewel Azerbeidjan in die subtropiese sone geleë is, en ondanks sy relatief klein oppervlakte, word hier as gevolg van sy reliëf nie minder as agt van die wêreld se elf klimaatsones aangetref. Die laer geleë landsdele het meestal 'n halfwoestyn- of steppe-klimaat, terwyl die laagvlaktes van Lenkoran 'n subtropies-humiede klimaatsone vorm waar sitrusvrugte soos lemoene en suurlemoene, tee en rys gekweek word. Die groot verskeidenheid fauna en flora word in nasionale parke bewaar, waaronder Gizilagach met meer as 220 voëlspesies en Gircan met sy rare boomspesies.[2]

Die Lenkoran-vlaktes is die mees suidelike kusgebied in die Koera-Araks-streek wat deur die Talisj-gebergte begrens word. Hierdie reeks strek tot in Iran. Die Abşeron-skiereiland met die hoofstad Bakoe steek in die Kaspiese See uit en is een van die droogste streke in Azerbeidjan. Net soos in ander landsdele word hier soutmere aangetref wat in die somertyd volledig uitdroog en op sneeulandskappe lyk. Sodra hulle met water begin vul, verander hulle hul kleur voortdurend na gelang van die wisselende lig- en weerstoestande.[1]

Sowat elf persent van die oppervlakte is bebos. Die tipiese flora sluit eike, beuke- en kastaiingbome asook struikgewasse in. Halfwoestyne, soms ook woestyne, bedek groot dele van die Koera-Araks-vlakte.[1]

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 1,5 1,6 Curtis, Glenn E. (1995). Armenia, Azerbaijan, and Georgia : country studies (1st uitg.). Washington, D.C.: Federal Research Division. pp. 99–101. ISBN 0-8444-0848-4. OCLC 31709972. Hierdie artikel bevat teks uit dié bron, wat in die publieke domein is.{{cite book}}: CS1 maint: postscript (link) (en) .
  2. 2,0 2,1 "Water Resources". www.azhydromet.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Mei 2007. Besoek op 2 Oktober 2018. (en) .

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy